
Alexander “Xander” Grier
24 October 2025
Neville Lotz:
31 October 2025Xander Grier kroon as Suid-Afrika se eerste Wynmeester!
Die langverwagte finaal van Die Wynmeester het Woensdagaand, 22 Oktober 2025, op VIA (kanaal 147) om 18:00 afgespeel. Hierdie nuwe Suid-Afrikaanse realiteitsreeks, wat in September 2025 afgeskop het, het ses passievolle, onafhanklike wynmakers saamgesnoer vir ‘n reis van kreatiwiteit, tegniese vaardighede en pure wynpassie. Die finaal was ‘n aand wat die hele seisoen se spanning tot ‘n emosionele hoogtepunt gebring het.
Die Top 3 Wynmakers Ding Mee om die Kroon
In die finaal was die Top-3-wynmakers – Jasper Wickens van Swerwer Wines, Banele Vakele van Tembela Wines en Xander Grier van Salt Rock Wines – teen mekaar gestel in ‘n laaste uitdaging wat al hul vaardighede getoets het: van kreatiwiteit en wyntegniek tot smaakbalans en mark-insig.
Die spanning het hoog geloop op stel, die kompetisie was sterk, en die kykers is tot aan die einde vasgenael gehou. Selfs met ‘n heruitsending later die aand om 21:30 vir dié wat dit gemis het.
Finale Uitdaging: Wyn en Charcuterie in Perfekte Harmonie
Die tema van die finale uitdaging was Charcuterie. Die perfekte kombinasie van wyne met delikate koue koshappies, vleissnitte, kaas en ander bykosse. Elke wynmaker was toegelaat om een bestanddeel van hul keuse saam te bring, maar dit het hulle steeds uitgedaag om hul wyne in sinvolle harmonie te laat pas met hulle charcuteriebord se teksture, kleure en geure.
Nie ‘n maklike taak nie, want dit het vereis om smaakverskille tussen vrug, suur en tannien presies te balanseer.
Xander Grier: Suid-Afrika se Eerste Wynmeester!
Uiteindelik was dit Xander Grier se wyne wat die mees gebalanseerde, opvallende en goedgerigte harmonie getoon het. Hy is as die heel eerste Wynmeester-kampioen gekroon! Sy wynmaak-vermoë, kreatiwiteit, en innoverende benadering het hom die titel besorg, en ons lig ‘n glas op hierdie talentvolle wynmaker van Salt Rock Wines.
Meer as Net ’n Kompetisie
Die reeks se skepper, Danie van der Merwe, het beklemtoon dat Die Wynmeester meer as ‘n kompetisie is. Dit is ‘n viering van Suid-Afrika se wynkultuur en die storie agter elke onafhanklike wynmaker se bottel.
Waarom hierdie seisoen van Die Wynmeester besonders was
Hierdie eerste seisoen het nie net die finaliste laat uitblink nie, maar die hele reeks het ‘n vars asem geblaas in die Suid-Afrikaanse-wynwêreld.
Hier is waarom dit ‘n wenner in sy eie reg is:
- Unieke fokus op onafhanklike wynmakers: Die reeks gee ‘n platform aan minder bekende en onafhanklike wynmakers wat nie altyd in die kollig is nie. Hulle is uitstekende wynmakers met ‘n legio uitdagings. Dit werp lig op hul persoonlike reis, ambisie en passie – van wingerd tot bottel.
- Leer én vermaak: Jy leer meer oor die agtergrond van wynmaak – kultivars, fermentasie, etikettering en bemarking – terwyl jy saamkyk aan ‘n spannende kompetisie. Elke episode het die deelnemers se storie en tegniese insigte gedeel, sonder om die pret na te laat.
- Interessante Uitdagings: Elke episode het ‘n nuwe tema gehad, wat die deelnemers gedwing het om buite hul gemaksones te dink en werk. Dink aan Blinde Wynproe (10 September), Snoephappies (17 September), Sosiale Media (24 September), Etiket-ontwerp (1 Oktober) en Wynverkope (8 Oktober). Hierdie temas het hul visie uitgedaag en hul kreatiwiteit laat blom.
- Hoër standaard van produksie en storievertelling: Die beeld, klank, redigering en vertelstyle het indrukwekkende kykgenot gebied. Die manier waarop emosie, spanning en kreatiwiteit verweef is. Dit dra by tot ‘n eindproduk wat meer is as net ‘n kompetisie – dit voel soos ‘n dokumentêre viering.
- Gemeenskapsbetrokkenheid en interaksie: Kykers is uitgenooi om in te skakel, te stem, te besin en te deel. Die promosiemateriaal op Instagram en Facebook het die kykers gemotiveer om saam te kyk, te praat en nostalgies te raak. Selfs die bekendstellingspartytjie vir die span en wynmakers het die gees van samewerking beklemtoon.
- ‘n Spesiale viering van Suid-Afrikaanse wynkultuur: Die reeks fokus op terroir, karakter en diversiteit van SA-wyne – dit vier die plaaslike talent en inspirasie agter elke bottel. Deelnemers se wyne is aanlyn beskikbaar, sodat jy deel kan word van die storie.
As jy die reeks gemis het
Gaan kyk gerus die heruitsendings op VIA/DStv CatchUp of besoek diewynmeester.co.za vir meer oor die deelnemers en hul wyne. Wat was jou gunsteling uitdaging? Deel in die kommentaar – en lig ‘n glas op die nuwe Wynmeester!








