
Carmen Stevens
3 October 2025
Clarise Sciocatti-Langeveldt:
17 October 2025Die Inspirerende Reis van Khayelitsha na die Wynmeester
Banele Vakele is een van dié inspirerende onafhanklike wynmakers wat tans te sien is op die gewilde realiteitsprogram Die Wynmeester op VIA, kanaal 147. Met sy rustige selfvertroue en duidelike visie vir die toekoms, bring Banele vars energie en innovasie na die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Sy reis na wynmaak het nie toevallig begin nie . Dit is die gevolg van harde werk, toewyding en ’n diep liefde vir die wingerd. Na jare van studie en praktiese ervaring in verskeie wynkelders, het Banele sy unieke styl en benadering tot wynmaak gevorm. Hy glo dat goeie wyn begin in die wingerd, en dat respek vir die grond en die natuur die sleutel is tot egte karakter in elke bottel.
Op Die Wynmeester wys Banele nie net sy tegniese kennis nie, maar ook sy kreatiewe flair. Hy benader elke uitdaging met ’n kalm vasberadenheid en ’n duidelike fokus op gehalte. Sy wyne vertel stories – stories van oorsprong, trots en ’n nuwe generasie wynmakers wat hul eie pad stap. Die program, wat in 2025 geloods is, volg ses onafhanklike wynmakers uit die Wes-Kaap, insluitend Banele. Hulle vaardighede word getoets in uitdagings oor wynkennis en kreatiwiteit. Die wenner word gekroon as die “wynmeester” en loop weg met pryse soos ‘n GWM P-series bakkie en ‘n stalletjie by die Standard Bank WineX-uitstalling.
Ons sien uit om te sien hoe Banele sy merk op die kompetisie laat, en hoe sy passie die beoordelaars beïndruk. Hieronder delf ons dieper in sy lewe, agtergrond en visie.
Kinderjare en Gesinsinvloede
Banele Vakele is in die Oos-Kaap gebore en het in Khayelitsha, een van die grootste townships buite Kaapstad, grootgeword. Sy familie het in die laat 1990’s na Kaapstad verhuis, waar hy in ‘n omgewing van uitdagings en gemeenskaplike solidariteit grootgeword het. Tembela, sy ma, was ‘n groot inspirasie vir hom. Sy het hom ondersteun in sy drome, ondanks die hindernisse. Ná haar afsterwe het Banele sy wynetiket “Tembela Wines” na haar genoem. In isiXhosa beteken “Tembela” “geloof, hoop en vertroue”. Waardes wat sy ma in hom gekoester het, veral toe hy besluit het om ‘n loopbaan in wyn te volg. Hierdie persoonlike storie weerspieël nie net sy wortels nie, maar ook die kulturele erfenis wat hy in sy wyne integreer. Mens kan dit sien op die etikette met vroue in tradisionele Xhosa-drag.
Opleiding en Vroeë Blootstelling
Banele se passie vir wyn het begin tydens sy hoërskooljare. Hy het ‘n beurs gekry om by ‘n skool in Constantia te studeer – ‘n streek beroemd vir sy wynproduksie. Van sy klaskamer af het hy dikwels na die omliggende wingerde gestaar, wat sy nuuskierigheid geprikkel het. In 2011 het hy by Elsenburg Agricultural College begin studeer, waar hy in 2015 ‘n B.Agric-graad in Oenologie en Vitikultuur voltooi het. Hierdie opleiding het hom die tegniese grondslag gegee om die kompleksiteit van ‘n eenvoudige druif in wyne om te toor.
Daarna is hy verkies tot die Cape Winemakers Guild Protégé Programme, ‘n drie jaar-mentorskapsprogram wat jong talent ondersteun en ontwikkel. Dit het hom die kans gegee om by top-wynhuise soos Ernie Els Wines, Groot Constantia en Savage Wines te werk, en het ‘n keerpunt in sy loopbaan geword.
Internasionale Ervarings en Werkservaring
Banele’s horison het verder uitgebrei deur internasionale ervarings. Hy het in Oregon (VSA) by Troon Vineyards gewerk, in Burgundy (Frankryk) by Domaine Chevrot, en in die Yarra Valley (Australië) by Sunshine Creek. Hierdie reise het hom gehelp om globale tegnieke en waardes te absorbeer, soos volhoubare boerdery en minimale ingryping in die kelder.
Terug in Suid-Afrika het hy sedert 2019 as assistent-wynmaker by Savage Wines gewerk, onder die mentorskap van Duncan Savage. Hierdie samewerking het sy styl gevorm, met klem op spontane fermentasie en organiese boerdery. In 2025 het hy egter sy laaste oes by Savage voltooi en nou fokus hy hoofsaaklik op Tembela Wines, met ‘n nuwe 50:50 vennootskap met Savage vir ‘n Cabernet Sauvignon-projek in Stellenbosch.
Die Geboorte van Tembela Wines
In 2020 het Banele sy eie etiket, Tembela Wines, geloods met die eerste vrystellings: ‘n Verdelho en ‘n Syrah. Vandag produseer hy ongeveer 200 kaste per jaar, met wyne soos Chenin Blanc uit 38-jaar-oue struikwingerd. Sy wyne kom uit streke soos Stellenbosch, Bottelary en Polkadraai Hills, en word geprys vir hul elegansie en “sense of place”. Selfs by die internasionale wynproeër en kritikus, Tim Atkin het Banele se 2020 Tembela Verdelho en Syrah uiters hoë punte behaal en hy is ook aangewys as 2025 se opkomende ster. Sy benadering is minimalisties: organiese praktyke, spontane fermentasie en ‘n fokus op karakter.
Uitdagings, Waardes en Toekomsvisie
Al is die pad nie altyd maklik nie. Van harde werk in die wingerd tot finansiële uitdagings as onafhanklike wynmaker. Banele glo dat volharding en respek vir die grond die sleutel is. Hy wil nie net erkenning kry nie, maar ook mense uit agtergronde soos syne inspireer om die bedryf binne te tree. Sy toekomsvisie is om Tembela Wines uit te brei, volhoubaarheid te prioritiseer en sy wyne internasionaal te laat floreer. Hy fokus op vrugte uit Firgrove – naby Khayelitsha – om sy storie te anker.
Banele Vakele is ‘n simbool van transformasie in die Suid-Afrikaanse wynbedryf, en sy deelname aan Die Wynmeester beklemtoon sy talente.
🍷 Onthou: Jy kan Die Wynmeester elke week kyk op VIA, kanaal 147. Al die wyn van elke deelnemer, insluitend Banele Vakele, is beskikbaar op www.diewynmeester.co.za.








